top of page
Search
  • Writer's pictureProf. V.E. d'Assonville

Danie Theron roep die Transvaal se krygsraad tot orde!

Dit was een van generaal Christiaan de Wet se moeilikste besluite: om op 2 Junie 1900 vir sy verkenner Danie Theron uit die koue rypvelde van die Vrystaat na Pretoria te stuur. Dit was om die Transvaalse krygsraad onder leiding van generaal Louis Botha te oorreed om tog nie die oorlog teen die Engelse te staak nie, al gaan dit hoe sleg met die Boere se krygsmagte!

Dis Vrydag 1 Junie 1900 en generaal de Wet met die Vrystaat se mag en preident Steyn is 19km ten ooste van Heilbron. Dit was ’n donker tyd vir die twee republieke Transvaal en die Oranje-Vrystaat. Bloemfontein het reeds geval en generaal Cronjé het met 4 000 man by Perdeberg oorgegee, ’n “nekslag” in die woorde van De Wet.

En skielik kom ’n verskriklike skok! President Steyn laat generaal De Wet roep om alleen met hom te praat. “Kyk net hier generaal, ek kan my oë nie glo nie!” Dis ’n telegram van die Transvaal se regering. Dis soos ’n donderslag: Generaal Louis Botha, bevelvoerder van Transvaal se strydmagte met sy krygsraad het besluit dat daar nie langer met die oorlog voortgegaan kan word nie. Daar moet met Brittanje vrede gesluit word. Dit beteken oorgawe, Transvaal en Vrystaat is hulle vryheid kwyt. Na al die bitter stryd van bloed en trane, is alles verby!

Toe generaal de Wet die telegram met die Transvaalse besluit lees, was hy verbysterd, te meer omdat ons burgers hier in die Vrystaat nog so hoopvol is en gedurende die laaste dae so suksesvol geveg het. Dadelik telegeafeer hy aan generaal Louis Botha dat die Vrystaatse magte juis optrek om die vyand wat van Kroonstad af opruk, te beveg en om die kommunikasie-verbindings te verbreek. “Broer, ons het alles ter wille van ons en u onafhanklikheid prysgegee, dus reken ek op u edele om al u invloed en mag kragdadig te gebruik tot die uiterste toe en vir ons dierbare onafhanklikheid te stry”. Aan Botha word dit beklemtoon dat Transvaal se vryheidstryd ’n geloofsdaad is. De Wet wat self in die slag van Majuba geveg het, wys die Transvaalse opperbevelvoerder op die les van daardie oorwinning. Sou dan die magtige God van destyds, nie ook nou ons in hierdie regverdige stryd help nie?”

Maar in die Vrystaatse rypveld het De Wet nog nie die vrede vertrou nie. Danie Theron is nog daar en hy word dadelik na Pretoria gestuur om in die krygsraad te vergader. Hierdie baasverkenner van De Wet sal by die tweede vergadering van die krygsraad sy stem laat hoor. As bevelvoerder van die Theron Verkennerskorps (die TVK) wat beide die Transvaal en die Vrystaat gedien het, het hy sitting op die Transvaalse krygsraad gehad.






En met Danie Theron het die drama van die vredespraatjies van die Transvalers sy klimaks op daardie Saterdagoggend 3 Junie, bereik. Die vergadering van die krygsraad het kalm begin en generaal Tobias Smuts (ouer broer van JC Smuts) het aan die woord gekom. Hy het sy grootste verbasing uitgespreek dat die krygsraad weer op die saak terugkom en hy het weer eens ’n pleidooi vir vrede met die Engelse gelewer. Danie Theron kon dit nie uitstaan nie. Hy spring op en nog voordat Smuts met sy pleidooi kon aangaan, dawer dit in die vergadering: “Menere, enige iemand van ons wat vandag nog van vrede praat, is ’n verraaier en moet as ’n verraaier behandel word!” Hierop het ’n luide applous losgebreek. ’n Eenparige regsomkeer is gemaak. Transvaal gaan weer die stryd saam met hulle dapper makkers van die Vrystaat hervat. President Steyn en generaal de Wet het nuwe moed. Nog twee jaar lank sal hulle nog vir hulle vryheid veg totdat hulle nie meer kon nie – deur die Engelse se oorlog teen vroue en kinders, toe 34 000 van hulle gesterf het! (Sondagkoerant Rapport, 30 Mei 2012.)

VE d’Assonville

(Hoofstuk 2 in my boek Generaal De Wet in die Vredefortkoepel)



43 views0 comments

Comments


bottom of page