top of page
Search
  • Writer's pictureProf. V.E. d'Assonville

Die Corona-virus – Christus sê: “Ek is haastig op pad na julle!”

Updated: Apr 11, 2020

Watter mens op aarde het al so iets belewe? Die hemelse Vader doen iets klein in ’n Chinese stad en in ’n kort tydjie bring dit die hele mensdom rondom die wêreld tot stilstand. Halt in julle spore! Selfs die grootste regering met sy gewaande mag oor miljoene mense het ’n patetiese magtelose leier geword. Die sterkste despoot met al sy heerlike beloftes vir die toekoms staan voor ons en stamel, soms selfs verward.

Natuurlik is maatreëls en regulasies nodig en moet ons gehoorsaam aan owerhede wees. MAAR, wanneer gaan die leiers van die lande openlik aan die wêreld sê: Alleen die God wat hemel en aarde geskape het, die Vader van ons Here Jesus Christus, kan ons verlos van die Corona-virus – nie sommer enige afgod nie! Ons moet voor Hom op ons knieë val! O ja, ... ook heidense godsdienste vra om te bid, onder andere die Islam, die Hindoes, die Boeddhiste en nog ander. Van hulle leiers sê openlik dat hierdie virus deur die duiwel gestuur is. Die vraag is egter heel eenvoudig: Word die ewige, ware God in Jesus Christus aanbid – Hy wat die virus beskik het?

Die HERE se doel met die Corona-virus: Dis ’n teken (bewys) dat Christus reeds KOM!

Jesus het reeds eeue gelede sy wederkoms aangekondig. Lees bv. Mattheüs 24 en 25. In die laaste Bybelboek, Openbaring, word die wederkoms voortdurend tot op die laaste bladsy vertel, bv. Openbaring 1:4; Op. 1:8; Op. 4:8; Op.11:17; Op. 22:17 en Op.22:20.

Jesus Christus gee aan die mensdom hoofsaaklik vyf tekens van sy wederkoms:

1. Oorloë en gerugte van oorloë (Mat. 24:6);

2. Hongersnode (Mat. 24:7);

3. Aardbewings, en ander natuurrampe soos vulkaniese uitbastings, tsoenamies ens. (Mat. 24:7);

4. Pessiektes, siekte-pandemies (Mat. 24:7);

5. Stakings, betogings, opstande – die Griekse woord taragoi (Mark. 13:8).

Hoe nader die dag van die wederkoms (ons weet nie die datum nie), hoe meer intens! Só was bv. die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) feller as die Napoleontiese oorloë aan die begin van die negentiende eeu; die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) was erger as die eerste. Die Tweede Wêreldoorlog het in Augustus 1945 geeïndig met ’n atoombom in Japan – die “Derde” Wêreldoorlog” (ons weet dit nie!) sal “waarskynlik” begin met ’n kernbom.

Wat staan ons as gelowiges in ons hemelse Vader te doen? Bid elke dag die tweede laaste vers van die Bybel: “Amen, ja kom Here Jesus!”

VE d’Assonville (sr.)




(Vir meer besonderhede, kan my geskrif Die Boek Openbaring u help om antwoorde en meer insig te verkry in hierdie buitengewone tyd.)



632 views0 comments
bottom of page