top of page
Search
  • Writer's pictureProf. V.E. d'Assonville

Stigting van die Gereformeerde Kerk Cachet

Cachet het reeds 50 jaar gelede ontstaan. In my 94ste jaar het ek nooit verwag om hierdie 50 jaar herdenking te beleef nie – seker een van die weinige tydgenote van die ouer garde wat destyds betrokke was. Die stigting van die Gereformeerde Kerk Cachet in 1971 was ’n geweldige onverwagte gebeurtenis in die kerkgeskiedenis van Potchefstroom, byna ’n sensasie.


Persoonlike herinneringe

In 1970 het ek die tweede predikant van die Gereformeerde Kerk Potchefstoom-Noord geword, saam met ds. JL (Wickus) Vorster, met die opdrag “studente-bearbeiding”. My taak was enorm groot en veeleisend. Baie gou het ek agtergekom dat die studente se kerkbesoek baie swak is, nie net in Noord nie, maar ook in die Gereformeerde Kerk Noordbrug – die twee gemeentes naby die kampus. Ek het heel gou tot die oortuiging gekom dat dienste op die kampus self gehou moes word – bring die Woord nader aan die studente self, na waar hulle leef. Maar, o wee – die teenstand teen hierdie oortuiging was erg, soms selfs venynig. Ná ’n moeisame stryd kon ons egter daarin slaag om die eerste erediens op ’n aand in die Totiussaal te hou. Die uitslag? Oorstelpend. In plaas van ongeveer 40 studente in die kerk, sit daar skielik sowat 400! Die volgende stappe was bitter swaar en vermoeiend, só erg dat ek liewer die debatte op die kerkraad probeer vergeet het. Herinneringe daaraan is steeds moeilik. ’n Voorbeeld van só ’n diskussie was onder andere: Hoe dink u, wie gaan die ouderlinge wees, ’n klomp snuiters? Daarop was my antwoord: So, u reken dat Timotheüs van die Bybel nie geskik was nie? Sê Paulus nie juis aan hom dat niemand sy jonkheid moet verag nie.


Die jeug – en ’n kwessie van roeping

Die stryd om tot stigting te kon oorgaan 50 jaar gelede, was ’n stryd oor roeping – roeping van die jeug. Die pad van die Here met Cachet was egter duidelik. In 1971 het die gemeente tot stand gekom. Slegs genade!


Interessante feite

Die naam van die gemeente.

Dit was nie met verwysing na ’n persoon nie, maar na die treinstasie Cachet op die kampus – die sentrum van al die studente van die Universiteit en die Onderwyskollege. Daardie dae het vele studente nog met die trein by Cachetstasie aangekom om te kom studeer en gereeld daarvandaan met die trein gereis.


Onverwagse toevoeging van gesinne vanuit buurgemeentes.

Skielik was daar ’n toeloop, onder andere vanuit huisvadergeledere van die koshuise. Daaronder was persone soos prof. WN Coetzee (Latyn), prof. Peet Aucamp (Regte), prof. Carools Reinecke (latere rektor van die PUK), prof. Danie Erasmus (Ekonomie), prof. Wimpie de Klerk (Filosofie), dr. Japie Spoelstra (Onderwyskollege), Eben van der Walt (Onderwyskollege), Joggie Hattingh (PUK-administrasie), Hans van Zyl (PUK-administrasie) en hulle almal se gesinne. Hierdie “ouer” en meer ervare manne op die kerkraad het ’n reuse bydrae gelewer.


Prediking. Spontane reaksie van die jeug. Ek het dit destyds beleef dat die jongmense meer openlik op die preke gereageer het as volwassenes. Of dit gegaan het oor die kerk of persoonlike sondes of die eindtyd ... Só baie terugvoer was daar deur die jong mans en meisies waaroor hulle dikwels lank ná ’n preek met my gepraat het. Vandag, wanneer ek ná 50 jaar die preke weer lees, is ek baie dankbaar. Die Here se Woord bly waar vir alle tye ...


Huisbesoek. My individuele huisbesoeke by alle lidmate het sy eie uitdagings gehad, maar dit is hanteer deur dames saam met die ouderling in die koshuis-sitkamers en die mans in hul koshuiskamers te besoek – altesaam baie, baie honderde (meestal individuele) huisbesoeke per jaar by die meer as 800 belydende lidmate!


Katkisasie. Uit die aard van die gemeente, was die katkisasieklasse by die pastorie klein en persoonlik – dit was die kinders van sowat ses gesinne, nl. onder meer die predikant se kinders, die De Klerk-, Hatting-, Aucamp-, Erasmus- en Van der Walt-gesinne en andere. Dit was ’n voorreg om as predikant self die klasse waar te neem. Vanaf 1972 was daar ook ’n belydenisklas en het dit op sy beurt die geleentheid geskep vir studente wat ook onderrig is om belydenis van hul geloof af te lê.


Fondse. Verskyning van die preekbundel, Geskeurde Gordyn. Natuurlik was die gemeente se gebrek aan finansies een van die grootste probleme. Hoe kon studente uit hulle klein sakgeldjies ooit genoeg vir die kerk bydra? Die kerkraad het toe ’n preekbundel van die dominee se preke uitgegee en studente het die boek in hulle tuisdorpe verkoop. In die voorwoord staan dit baie duidelik: “Die gemeente alleen ontvang alle winste.” Meer as R6000 is met hierdie boek ingesamel – met 1971 se geldwaarde ’n aansienlike bedrag, in daardie tyd byna dubbeld die predikant se traktement per jaar. Hierdie geld is oordeelkundig aangewend om onder andere noodsaaklike items soos die kollektesakkies en nagmaal servies aan te koop.


Allerlei

Daar is so baie dinge oor Cachet waaroor ons sou kon gesels – die volgepakte Totiussaal met eredienste, die kerkraadsvergaderings in die SR-kantore, die entoesiastiese Psalmsang van die gemeente met klavierbegeleiding, asook die gereelde, spontane laataand “serenade”-sang deur groepies lidmate by Therese en my aan huis wat as kosbare herinneringe vir ons as Cachet se eerste predikantspaar uitstaan. Ook baie ander uitsonderlike reëlings, bv. die groot opvoubare staaltafels van die Universiteit waarmee meer as honderd lidmate op ’n slag aan ’n nagmaalstafel kon sit, ens. Wat ’n opwindende voorreg om deel van ’n jong gemeente se groei en besondere genadetye te kon wees! Met dankbaarheid gaan gedagtes terug na waardevolle tye uit die Here se hand – jare waarin die Woordbediening kon voortgaan. Mag die Here se troos aan sy kerk uit Openbaring 3:8-10 die Gereformeerde Kerk Cachet – én die oudlidmate van Cachet – ook vorentoe bemoedig: Omdat jy my woord ... bewaar het, sal Ek jou ook bewaar ... Wees gegroet!



VE d'Assonville (Snr)




46 views0 comments

Comments


bottom of page