top of page
Search
  • Writer's pictureProf. V.E. d'Assonville

Die grootste vuurwerke in Afrika ooit?

Dit het op die eensame spoorwegstasie Rooiwal, ongeveer 10 km suid van die dorp Koppies gebeur. Dit was Vrydag 7 Junie 1900, midde in die bloedige Anglo-Boereoorlog. Ons praat van vuurwerke in die lug. Die lug was verlig met helderkleurige vuurstrale en hulle wat dit gesien het, was verstom oor die gesig. Die gedreun, soos donderweer, is selfs in Heilbron, Frankfort, Parys en Vredefort gehoor. Dit was die reuse stapel ammunisie en militêre voorrade wat generaal de Wet op daardie dag van sy vyand gebuit het en aan die brand gesteek is. Die krater wat die ontploffende bomme gemaak het, het ons gefotograveer en is ten suide van Rooiwalstasie, oos van die treinspoor.

Dit was op die aand van die veldslag van Rooiwal, waar generaal Christiaan de Wet en sy kommando een van hulle grootste oorwinnings behaal het. By die stasie Rooiwal was Engelse se depot van militêre voorrade. O.a. was daar die reuse Howitser- en Amstrongbomme. Op 7 Junie 1900, het die Boere die treinspoor gelyktydig op drie plekke aangeval, nl. Vredefortweg (vandag Greenlands), die treinbrug oor die Renosterrivier naby Koppies en Rooiwal.

Een enkele bom van die Boere se Krupp-kanon, was genoeg om die Engelse bevelvoerder, kaptein Gale en sewe soldate te dood. Hulle grafte by die stasie kan vandag nog gesien word. Aanhoudende Mauzer-vuur het die Engelse teen 12-uur die middag laat oorgee met 167 man.

Die massale buit, tonne groot kaliber bomme, duisende Lee Metford-gewere, honderde groot kiste koeëls, enorme voorrade klerasie, vaatjies sterk drank en bier, kos vir duisende soldate soos bv. baie sakke hawermout, duisende blikkies “bully beef”, groot blikke konfyt, koffie, tee, sakke suiker ens. Ook massas klerasie en komberse. Voorwaar was dit een van die grootste voorrade buit in die oorlogsgeskiedenis. Vir die Boere was dit ’n onbeperkte hoeveelheid goedere en hulle was magteloos om alles te vervoer – gebrek aan genoeg waens. Van die ammunisie het die generaal 600 kiste patrone met honderde gewere onder die wapad oor die Renosterrivier laat begrawe – later was dit wapens wat op die Engelse geskiet het!

En die res van die buit wat die Boere onmoontlik kon wegvoer, ’n heuwelhoog suid van die stasie? En wat van die groot voorraad bomme en plofstowwe? Laat generaal de Wet self die verhaal vertel: “Nou sal vuur sy werk moet doen. Ek het vyftien manne gekies om die groot heuwel van goedere op verskillende plekke wat ons met planke gereed gemaak het, aan die brand te steek. Tegelyk het die vlamme oral uitgeslaan. Dadelik het ons op die perde gespring en weggejaag. Op ’n afstand van omtrent 1500 treë het ons die eerste ontploffing van bomme gehoor. Toe het ons die skouspel gesien. Dit was die mooiste vuurwerke wat jy jou kan voorstel en in die donker nag was die gesig soveel meer indrukwekkend. Ons kon tussen die harde gebulder van die groot bomme, die sagte ontploffings van die hope kordiet (springstowwe) hoor. Die pragtigste van alles was die veelkleurige ligte wat hoog in die lug vertoon is” (De Wet, p. 149).

Lord Roberts kon dit nie verwerk nie. Na Rooiwal, het sy haat teen generaal de Wet alle perke van ordentlikheid en beskaafdheid oorskrei. In ’n tirade vaar hy uit teen De Wet: “He, like all Free Staters fighting against us, is a rebel and must be treated as such!”

Binne ’n week na Rooiwal, kom Roberts se bevel gelyktydig aan drie van sy hoofgeneraals, Kitchener, Methuen en Smith-Dorien om De Wet se plaashuis waar sy vrou en kinders woon, te vernietig!: “A commencement should be made tomorrow by burning De Wet’s farm!” En toe het Metheun die huis met dinamiet opgeblaas en die plaas Rooipoort geplunder. (Vgl my boek oor De Wet)

Ontsettend barbaars! Na Rooiwal was dit die begin van die “Methods of barbarism” wat deur die Britse Opposisieleier op 14 Junie 1900 aangekondig is. Dit was die begin van die gevangeneming van vroue en kinders. Die prys van Rooiwal was ontsettend duur!


VE d’Assonville




43 views0 comments
bottom of page