top of page
Search
  • Writer's pictureProf. V.E. d'Assonville

Rare De Wet Verhale: “Dit is Colley!” - 27 Februarie 1881

Lank voordat Christiaan de Wet as generaal beroemd sou word, het ’n besondere insident in sy lewe plaasgevind. Op Sondag 27 Februarie 1881, op die kruin van die berg Majuba, sou dit gebeur. Dit was in die hitte van die finale veldslag van die Eerste Vryheidsoorlog tussen die Boere en die magtige Britse leërmag, onder aanvoering van hulle befaamde en gesoute generaal George Pomeroy Colley. Christiaan de Wet was toe nog ’n veldkornet, een van die Vrystaters wat die Transvalers gehelp het om hulle vryheid weer terug te wen. In die nag van Saterdag 26 Februarie, het die Engelse die Majubaberg van die suidekant af stil-stil beset.

Laat ons De Wet self aan die woord stel:

“Toe dit lig word die volgende oggend (Sondag), word daar van bo af op die brandwagte geskiet. Daar gewaar ons in die laer dat dit Engelse is, wat in die nag op die berg geklim het. Generaal Joubert het kort en bondig beveel: ‘Julle, gaan en haal hulle daar af!’

“Ons het ons in drie (groepe) verdeel. Ek was met die klompie wat noordoos opgeklouter het. Dit was steil – so steil soos ek selde ’n berg beklim het. Maar ons klim – en dit onder die gedurige geskiet van bo; ons klim al hoër en hoër. Op die plat kante bo-op die berg het die Engelse troepe klein klipskansies gepak, en vandaar af het hulle ons, toe ons amper bo was, geweldig bestook – maar niks kon ons keer nie, en ons is ten laaste bo-op die berg. Toe was daar ’n geweldige vuur van weerskante; maar dit het nie lank geduur nie. Daar vlug die Engelse …” (Kestell, p. 27.)

In kort het die volgende gebeur: Generaal Colley het sy manne na die noorde van die kruin aangevoer, vanwaar veldkornet Roos met die Boere deurgebreek het. Terselfdertyd het kommandant Ferreira met sy afdeling van die suidweste, langs ’n klofie, op die Engelse losgebrand. Van die oostekant af het veldkornet Danie Malan se manne (waaronder De Wet) op die vyand gevuur. Die Engelse was gelyktydig van drie kante af onder skoot.

De Wet vertel verder:

“By een van die skansies lê daar ’n gesneuwelde. ‘Dit is Colley!’, hoor ek … Dapper het hy aan sy dood gekom, want hy lê by die voorstes wat doodgeskiet is.” Wat ’n uitsonderlike moment! Christiaan de Wet, die toekomstige wêreldberoemde Boeregeneraal, staan by die gestorwe liggaam van die wêreldberoemde Britse generaal van die Eerste Vryheidsoorlog.

Koningin Victoria wat ’n veragting vir die Boere gehad het, was verbitterd oor Majuba waarop haar uitroep van wraak gevolg het: “I do not like peace before we have retrieved our honour!” (Lehmann, The First Boer War, p. 270.) Die Engelse se wraak – waarna haar versugting was – was toe die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902), waartydens generaal De Wet as een van die groot helde na vore sou tree.

VE d’Assonville (Snr)




(Vir meer hieroor en interessante grepe uit ons geskiedenis, lees gerus prof. Victor d’Assonville se boek Generaal De Wet in die Vredefortkoepel, asook Majuba wat aanlyn bestel kan word.)

0 views0 comments

Comments


bottom of page