top of page
Search
  • Writer's pictureProf. V.E. d'Assonville

Rare De Wet Verhale: Tragiek van Perdeberg en die waagmoed van Danie Theron - 27 Februarie 1900

Hoe tragies kan die geskiedenis nie wees nie – van alle dae moes dit juis op 27 Februarie 1900 wees, presies 19 jaar ná die roemryke oorwinning oor die Britse Ryk by Majuba, wat die hartseer oorgawe van generaal Piet Cronjé aan die Engelse, op die plek Perdeberg in die Wes-Vrystaat plaasgevind het. Hoeveel vergeefse pogings was daar nie deur generaal De Wet om Cronjé te red nie. En telkens het Cronjé net botweg geweier om na die advies van De Wet te luister. Die beste geleentheid was toe De Wet op 26 Februarie vir generaal Cronjé en sy 4 000 man die pad oopgeveg het ... maar weer weier Cronjé die kans. De Wet skryf: “As hy (Cronjé) dit gedoen het, sou sy verlies nie groot gewees het nie. (De Wet, De Strijd tussen Boer en Brit, p. 56.) Die gevolg? Generaal Piet Cronjé met 3 919 Transvalers (grootliks die Potchefstroomse kommando) is deur die Engelse gevange geneem – 10% van die totale Transvaalse en Vrystaatse vegtende magte!

Drie keer tevore het Cronjé al die militêre advies van De Wet afgewys. Tragedie op tragedie. Wat kan De Wet met sy klein mag op die vooraand van Majubadag nog doen? Hy is egter ’n man van grenslose deursetting. Vir nog ’n laaste keer gaan hy en sy manne probeer om generaal Cronjé en sy mag uit die kloue van die vyand te red! “Ek wil nog nie die saak opgee nie!”, skryf De Wet in sy boek (p. 62). As ons dan nie die kordon van tienduisendes met ’n paar honderd Boere van buite af kan verbreek nie, moet Cronjé ook van binne af en gelyktydig op presies dieselfde punt aanval. Daar is maar één enkele man wat die sleutel is vir hierdie vierde reddingspoging Danie Theron! Dit was ’n waagstuk wat ek aan hom voorgestel het om te doen, wat nooit in ons hele bloedige stryd oortref sou word nie. Ek neem Danie toe eenkant en vra dat hy aan generaal Cronjé moet gaan verduidelik dat ons hele saak daarvan afhang of hy met sy duisende sal ontsnap. En dat as hy in die hande van die vyand val, dit vir ons ’n nekslag sou wees. Ek het ’n pad aangedui waarlangs hy kan uitkom. Hy moet in die nag deurveg, waar ek hom op sekere plekke op twee punte tegemoet sou kom, waar ek die Engelse kon verhinder om hom te agtervolg.” (De Wet, pp. 62-64.)

Generaal de Wet vertel voorts: “Danie Theron het toe onderneem om deur die vyand se linies te gaan om my boodskap aan generaal Cronjé te bring. Hy het in die nag van die 25ste Februarie vertrek.” (p. 64.) Wat ’n geweldige onderneming van een enkele Boer om byna 4 000 ander Boere te red. Om man-alleen deur die Engelse se swaar gewapende linies te breek. Hoe? Om op die knieë oor kliprandjies op die maag te seil – “leopard crawling”, soos wat die Engelse dit noem... Maar as daar één verkenner van De Wet was wat hierdie onmoontlike ding kon sou regkry, dan was dit Danie Theron! Dwarsdeur die donker nag het hy meter vir meter gekruip en oplaas generaal Cronjé bereik – ’n doodsnag waar ’n Lee Metford-koeël elke oomblik sy einde kon beteken. Intussen het generaal De Wet en sy manne hulle verpligting stiptelik nagekom. “Die volgende nag het ek na die plek gegaan waar ek generaal Cronjé bestel het, maar tot my groot teleurstelling het hy nie opgedaag nie!” (p. 64.) O, tragiese ironie! Van slaap kon daar geen sprake meer wees nie. En die bytende onsekerheid oor wat met Danie Theron gebeur het? Is hy dalk dood? Moes hy sy bloed so tevergeefs gee? Is dit sy skuld?

Maar na die donker nag van 26 Februarie, by die plekkie Poplar Grove aan die Modderrivier, strompel Danie Theron die tent van sy generaal binne, met bloeiende knieë. “Wat! Danie, wat het gebeur?” “Hy wat Danie is, het tussen die Engelse wagte deurgekruip, heen en terug. Sy broek was aan flenters geskeur. Ja, bloed het uit beide sy knieë waarvan die velle afgeskaaf was, geloop (p. 64). Die toestand van Danie Theron was aangrypend, byna morbied. Maar die volgende skok was vir generaal de Wet nog erger, naamlik die nuus hoe generaal Cronjé die presiese, uitgewerkte militêre plan van die Vrystaters om hom en sy mag te red, geantwoord het: “Nee, ek sien niks goeds in die plan van generaal de Wet nie!” En met hierdie antwoord van Cronjé, was die redding van 4 000 Boere verby! Die “Griekse” tragedie het sy slot bereik. De Wet skryf: “Om 10 uur dieselfde dag het generaal Cronjé homself oorgegee. Bitter was my teleurstelling!” (p. 64.) Wat ’n verskriklike terugslag vir die Boere!

VE d’Assonville

Vir meer hieroor en interessante grepe uit ons geskiedenis, lees gerus prof. Victor d’Assonville se boek Generaal De Wet in die Vredefortkoepel wat aanlyn bestel kan word.

Generaal De Wet

2 views0 comments

Comments


bottom of page