top of page
Search
  • Writer's pictureProf. V.E. d'Assonville

DINK AAN JOU DOOP!

WAT BETEKEN DIE DOOP VIR ONS EN ONS KINDERS


In 'n tyd van groot kerklike verval in die vorige eeu, het die bekende Amsterdammer J.A. Wormser gesê: "Leer dan die nasie om sy doop te verstaan en te waardeer- en Kerk en Staat word gered!" En dit is vandag weer presies die probleem: ons mense verstaan nie meer hulle doop nie. En daarom waardeer hulle dit ook nie meer nie. Die mooiste reformatoriese erfenis, die pragtigste gereformeerde belydenis - juis oor die doop! - word verruil vir 'n oppervlakkige geesdrywery. Onsekerheid en twyfel het baie van ons kerkmense beetgeneem soos nog nooit tevore nie. En wat 'n skreiende ironie: Dit is dan juis die doop wat ons geloof moet versterk (vraag en antwoord 65 van die Heidelbergse Kategismus). Dit moet juis aan ons sekerheid gee. En dat die christelike doop juis die uitsoekprooi van onsekerheid en dwalings in die kerk geword het, is 'n tragiese verskynsel in alle eeue dwarsdeur die kerkgeskiedenis.


Elke keer as die mens hom nie meer wil hou aan die Woord van God nie, dan begin hy knoei met allerhande dinge in die kerk en veral met die doop. Dit is dan ook opvallend in die kerkgeskiedenis dat as daar met die doop gedwaal word, dan is daar dikwels 'n hele aantal ander leerstukke wat of verwerp of skeefgetrek word, soos bv. die genadeverbond, die erfsonde, die verkiesing ens. Die doop wat verknoei word, word dikwels die invalspoort van selfs heidense idees. In die ou Christelike kerk was dit selfs die heidense misteriegodsdienste wat ingekom het. Ons dink ook bv. aan die seremonie van die duiweluitbanning by die doop gedurende die Middeleeue. In die 16de eeu met die Hervorming moes manne soos Luther en Calvyn hulle heftig verset teen die Roomse wat van die doop 'n toormiddel gemaak het waardeur die genade in die dopeling ingegiet word en ook teen die Anabaptiste (Wederdopers) wat van die doop 'n redmiddel gemaak het waar die mens self die beslissing moet neem.


WAAROOR GAAN DIT BY DIE DOOP?


Dit gaan om Jesus Christus - en deur Hom oor die Drie-enige God. Die doop het geen ander doel nie en dit is om te vertel van Jesus Christus. Alles wat daar by die doop plaasvind, of dit nou 'n grootmens is wat gedoop word of 'n kind, of dit met onderdompeling of besprenkeling met water gebeurdit mag alleen heenwys na Jesus Christus die Gekruisigde. Hier het ons die eksklusiewe inhoud van die Evangelie (1 Kor. 2:2). Dit gaan oor HOM, Jesus. Die oomblik as dit vir ons gaan om 'n ding-'n seremonie, gewoonte, bygeloof, vertoning, plegtigheid, ens., of iets wat in my is, my besluit, my geloof, my wedergeboorte, my bekering, my berou, my dade, my keuse ens., dan loop dinge verkeerd. Daarmee se ons nie dat sekere dinge soos geloof en bekering en wedergeboorte nie ook met die doop te doen het nie, maar dit is nie die finale, absolute INHOUD en DOEL van die doop nie. Alleen Jesus Christus die Gekruisigde!


Om dit anders te stel: die doop is 'n sigbare preek. Dit vertel nie iets anders as wat die Woord aan ons verkondig nie. Dieselfde Evangelie wat ons elke Sondag van die preekstoel hoor met ons ore - dieselfde Evangelie sien ons van tyd tot tyd by die doopbak met ons oë; ons kan dit soms tas met ons hande! Die prediking en die sakrament is albei een en dieselfde Evangelie dit word onderskei in die hoorbare en die sigbare Woord maar dit mag nooit geskei word nie. As ons hierdie waarheid konsekwent vashou, sal ons van baie ongelukke met die doop gevrywaar word. Ons reformatoriese vaders het hierdie saak so duidelik raakgesien toe hulle verklaar het dat altwee, die prediking en die sakramente "daarvoor bedoel en daartoe verorden (is) om ons geloof op die offerhande van Jesus Christus aan die kruis as op die enigste grond van ons saligheid te wys." (Heid. Kateg. vr. 67).


DIE TEKEN BY DIE DOOP


Dit is die water. Hierdie water vertel van Jesus se bloed- Sy bloed aan die kruis. Dit vertel dat soos wat water 'n mens se liggaam reinig van vuiligheid, so reinig die bloed van Christus ons van al ons sondes. Maar let wel: die water bly altyd die teken - dit kan nooit die plek van die bloed inneem nie. Self kan die water nooit sondes afwas nie. Al word 'n mens honderdmaal onder water gedompel, kan die water op sigself geen effek op jou sondes hê nie. Alleen Christus se bloed, Sy offerande, Sy versoening kan jou red. Dit is die blye boodskap wat aan die dopeling vertel word. Dit is die belofte wat verduidelik word: Jesus red jou deur Sy bloed! (Heid. Kateg. vr. 72). Dit is nou die preek wat jy kan sien en beleef (as jy self gedoop word).


DIE DOOP AS SEËL


Die doop is nie alleen 'n teken, 'n sigbare vingerwysing na die kruis nie. Dit vertel nie alleen WAT die belofte is nie (verlossing uit sonde!), maar dit is ook 'n versekering, 'n bewys, 'n seël, 'n assuransie, 'n sekuriteit dat die belofte van die Evangelie (redding deur Jesus Christus) aan JOU, die dopeling gegee word. Maar laat ons nou een saak baie sterk vashou: Dit verseker ons nie van iets anders as die BELOFTE van die Evangelie nie. Dit verseker ons nie van ons uitverkiesing nie - wat dan van die gedooptes wat verlore gaan, soos wat besnedenes soos Esau en Judas Iskariot wat verlore gegaan het? Die doop verseker ons ook nie van ons wedergeboorte nie - wat dan van gedooptes wat later hipokriete en ongelowiges word?


Die doop is ook nie die redding self nie, maar is die BELOFTE van die redding. Kom ons maak dit met 'n beeld duidelik: As iemand vir u 'n banktjek gee, se van R100 - dan is daardie tjek nie die R100 self nie, maar dit is 'n bewys, 'n belofte van die geld wat aan u gemaak is. U kan seker wees van hierdie belofte - die gewer se naamtekening, sy seël is daaronder. So ontvang ons ook die belofte van die Evangelie in die Naam van die Drie-enige God. So staan daar dan ook so duidelik in die gereformeerde Doopsformulier: "As ons in die Naam van die Vader gedoop word, betuig en verseël God die Vader aan ons ... ens."As ons in die Naam van die Seun gedoop word, verseël die Seun aan ons... ens." "As ons in die Naam van die Heilige Gees gedoop word, verseker die Heilige Gees ons deur hierdie heilige sakrament... ens." En elke keer volg die belofte waarvan ons verseker word.


DIE GENADEVERBOND


Dit is opvallend dat die beloftes van die Evangelie voortdurend in die Heilige Skrif verbind word met die verbond wat God met die mens opgerig het. Beloftes van die Evangelie is sinoniem met die beloftes van die verbond. God se verbond neem so 'n besonder kardinale plek in die Bybel in dat die term meer as 300 keer gebruik word, afgesien van al die plekke waar nog oor die saak gehandel word. Maar wat is nou die verbond? Is dit 'n kontrak tussen God en mens- 'n ooreenkoms tussen twee partye? Stel elke party sy voorwaardes? NEE! Geen kontrak nie! Die Hebreeuse woord vir verbond in die Ou Testament (berieth) en die Griekse woord in die Nuwe Testament (diatheke) beteken letterlik testament. Daar is geen sprake van 'n kontrak tussen twee partye nie. 'n Testament word eensydig deur een persoon, die testamentmaker opgestel. Hy alleen bepaal die erfenis en nie die erfgename nie. Hy alleen stel alle voorwaardes op en nie die erfgename nie. Hierdie punt is uiters belangrik in ons beskouing oor die doop. En nou weet ons: Toe God 'n verbond met die mens gemaak het, het Hy 'n testament gemeak. In hierdie testament word die erfenis beskryf: vergewing van sondes, die engige lewe, die opstanding, die nuwe hemel en die nume aarde, die saligheid ens.


Die erfgename word ook duidelik beskryf: die gelowiges en hulle kinders. En soos wat elke testament van krag word en in werking tree by die dood van die testamentmaker, so het

God se Testament van krag geword deur die dood van Sy Seun Jesus Christus. En hier staan ons nou voor die geweldige feit van die hele Heilige Skrif wat ingedeel is in 'n Ou en 'n Nuwe Testament. Kom ons lees wat daar staan in Hebreeërs 9:15-20: "En daarom is Hy Middelaar van 'n nuwe testament, sodat terwyl daar 'n dood plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die eerste testament, die wat geroepe is, die belofte van die engige erfenis kan ontvang. Want waar 'n testament is, moet noodsaaklik die dood van die testamentmaker aangekondig word; want 'n testament is geldig by sterfgevalle, aangesien dit nooit van krag is solank as die testamentmaker nog leef nie. Daarom is ook die eerste testament nie sonder bloed ingewy nie, want toe elke gebod volgens die wet deur Moses aan die hele volk aangekondig is, het hy die bloed van die kalmers en bokke saam met water en skarlakenrooi wol en hisop geneem en die boek self en die hele volk besprinkel en gesê: Dit is die bloed van die testament wat God met die oog op julle verorden het."Hier sien ons die aangrypende daad van God: Die hele Ou Testament word vervul in die Nuwe Testament met die dood van Jesus Christus! Die hele Ou Testament word vervul in die nie twee soorte Evangelies nie, maar dit is die een Evangelie met twee bedieninge. Ons kan ook praat van die twee fases.


Soos 'n roosknop wat geleidelik oopgaan en eindelik in 'n volle blom duidelik en helder sigbaar is, so het dieselfde Evangelie van die Ou Testament ontwikkel tot vervulling in die Nuwe Testament. Al die bloed van die offerdiere het heengewys na die bloed van Jesus Christus. En Hy wat self God is, is die groot Testateur wat sterf aan die kruis - en die Testament word vir die erfgename oopgemaak! Dit is nou aan hierdie Testament of Verbond waaraan God Sy tekens en seëls (Sy sakramente) verbind het: In die Ou Testament was dit twee- die besnydenis en die Pasga. In die Nuwe Testament is dit twee- die doop en die nagmaal. Hierin word die erfenis afgebeeld en verseker. Dit is die sigbare dokumente van God se Testament (Verbond).


BELOFTE EN EIS VAN DIE TESTAMENT (VERBOND)


Soos by elke testament is daar nie alleen 'n erfenis wat beloof word nie, maar daar is ook voorskrifte hoe om hierdie erfenis te hanteer. God gee geen belofte sonder die eis van geloof en bekering nie. Maar let wel: Altyd eers die belofte en dan die eis van gehoorzaamheid. Die belofte is nooit afhanklik van die mens se gehoorsaamheid nie, maar andersom - die gehoorsaamheid, die geloof en bekering, is afhanklik van die belofte. Neem bv. die geskiedenis van Israel in die slawehuis van Egipte (Exodus I e.v.): God gee nie eers sy wet in Egipte en eis van hulle om dit te onderhou en as hulle dit sou regkry, dan sal Hy hulle verlos nie ...Nee, in Egipte is daar nog geen sprake van Sy wet nie. Hy gee eers die belofte ... EERS die deurtog deur die Rooisee en DAARNA kom Sinaï met die wetgewing. En jufs daarom kondig God die Tien Gebooie met 'n besondere inleiding aan in Exodus 20: "Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland uit die slawehuis VERLOS het."EERS die Evangelie en DAN die wet! EERS die belofte en dan die eis. En dit is presies wat gebeur by die doop. Daarom staan dit dan ook so duidelik in die gereformeerde Doopsformulier: "Aangesien daar in alle verbonde (lees: testamente) twee dele (d.i. belofte en eis) is, word ons van Godsweë deur die doop vermaan en verplig tot 'n nuwe gehoorsaamheid."Kom ons dink weer aan die beeld van die banktjek: Die tjek van R100 is nog nie die geld self nie, maar dit is 'n belofte en 'n bewys dat die geld gewissel sal word. Wanneer? As die eise van die tjek nagekom word. God doen alles. Hy gee die belofte en Hy vervul dit ook- maar Hy doen dit op die pad van die mens se gehoorsaamheid. Hy doen dit nie buite die mens se verantwoordelikheid om nie. Dit gebeur op die pad van geloof en bekering.


EN NOU DIE KINDERDOOP


Wat van ons kinders? Mag hulle nie gedoop word nie? Word die erfenis nie aan hulle beloof nie? Moet hulle nou eers grootword om eers die eis van geloof en bekering te volbring voordat God aan hulle die redding sal gee? As 'n klein babatjie van 'n paar dae oud in sy wiegie le - mag hy dan geen geskenkies van sy ouers en sy grootouers ontvang nie, bloot omdat hy nog nie kan verstaan nie? Of sterker gestel: Mag daardie klein kindjie nie in die testament van sy vader opgeneem word nie en mag sy erfenis glad nie daarin beskryf word alvorens hy volwasse geword het en kan verstaan nie? En nou begryp u waarom die manne van die Reformasie van die 16de eeu so nadruklik uitgeroep het: "Alhoewel ons kinders hierdie dinge nie verstaan nie, is dit nie 'n rede om hulle van die doop uit te sluit nie,

want sonder dat hulle dit weet, het hulle in Adam deel aan die verdoemenis, en sonder dat hulle dit weet, word hulle ook weer in Christus tot genade aangenaam..." (Doopsformulier).

Net so goed as die volwassenes is ons kinders in die verbond (testament) van God en Sy gemeente ingesluit. (Held. Kateg. vr. en antw. 74) Is ons kinders nie ook erfgename van die Nuwe Testament nie?


- Die verwerpers van die kinderdoop moet dit met hulle gewetens antwoord. Is die heilige doop nie 'n teken en seël van hierdie testament nie?

- Laat die lasteraars van die verbond dit met hulle gewetens antwoord. Is die belofte van die heerlike engige Evangelie nie ook vir ons klein kindertjies nie?

- Laat die verraaiers van die gereformeerde belydenis en die Wederdopers wat hulle eie doop verwerp het dit met hulle gewetens antwoord. Het hulle nog nie Petrus se preek op die Pinksterdag gehoor nie? Laat hulle dit gaan lees in Handelinge 2:38,39. Hy spreek tot volwasse Jode, kinders van die Ou Testament wat die teken van die Ou Testament naamlik die besnydenis as kinders ontvang het. Hulle het Jesus gekruisig, maar hy roep hulle op om hulle tot Jesus te bekeer. Hulle, hierdie volwasse Jode, moet erfgename word van die Nuwe Testament. Christus die groot Testateur het gesterf en sy testament moet uitgevoer word.

En die teken en die seël vir julle volwassenes, is die doop. Dit is die offisiële dokument van julle erfenis waarmee julle die wereld moet ingaan. Dit is die teken en seël van die BELOFTE. Vers 38: "Bekeer julle ..." Kom na Jesus Christus, aanvaar Sy Testament. "...En laat julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang."


WAAROM?


WANT ... (vers 39): Die rede word gegee. Die grond van die doop vir volwassenes en kinders word aangedui: "Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is die wat die Here onse God na Hom sal roep."Die belofte ... die belofte ... die belofte . Ook vir julle kinders. Die Joodse kinders en ook die kinders van Christene uit die heidendom: "almal wat daar ver is ... ens."Sien ons die twee groot bakens van die Heilige Skrif raak?

- die twee bedienings van die Evangelie van genade,

- die twee Testamente wat Hy gemaak het:

Die een met Abraham daar ver terug in die eeue toe God uit vrye soewereine genade vir Hom 'n volk geroep het waaruit die Messias moes gebore word deur Wie Hy na die wereld wou gaan. Die HERE maak 'n testament met Abraham die volwassene en as teken en bewys gee Hy aan hom die besnydenis- die volwasse besnydenis. maar die belofte is nie slegs vir Abraham nie. Dit is ook vir sy nageslag en hulle geslagte (Gen. 17:7). En daarom moet ook sy kinders die teken en seël van die besnydenis ontvang, "en dit sal 'n teken wees van die verbond (lees testament) tussen My en julle" (Gen. 17:11).


Die tweede baken, naamlik van die Nuwe Testament vind ons op die Pinksterdag. God gee sy belofte inChristus met die teken van die doop- volwassenes en kinders. Die Jode van die Ou Testament het nie die volwasse besnydenis verwerp nie. Abraham en Lot is besny en elkeen wat hom by die volk Israel as gelowige gevoeg het, moes hierdie teken ontvang. Die christene van die Nuwe Testament het nie die volwasse doop verwerp nie. Elkeen wat hom voeg by die kerk uit die heidendom, moes hierdie teken ontvang, want dit is 'n teken van die belofte van die Evangelie. Maar die belofte is OOK VIR DIE KINDERS (Hand. 2:39). En dit- hierdie sigbare dokument van Jesus Christus se Testament waarin my en my kinders se erfenis beskryf word, gee geweldige sekerheid in 'n onseker wereld. Geloofsekerheid oor wat God gedoen het, nie oor wat ek gedoen het nie. Toe Maarten Luther op 'n keer in 'n geweldige aanvegting en aanslag op sy geloof beleef het en dit vir hom gevoel het asof alles rondom hom wou instort, toe neem hy 'n stukkie kryt en skryf oor sy tafel: "Ich bin getauft! "Wat maak ek met my doop? Dit was die sigbare preek in my lewe. Dit was voor baie getuies. God het toe sy belofte aan my bewys. Hy het gesê: Wees hiermee verseker dat Ek jou liefhet. Nog voordat jy een enkele iets vir My gedoen het, het Ek jou alreeds liefgehad! Maar hierdie doop roep jou tot geloof- nie geloof in die water of die doopbak of die doopouers of die dominee of die kerk nie, maar geloof in God se beloftes.


Jou doop se dat jy God se erfgenaam is. Wil jy dit wees? Van nature wil ek my erfenis verkwis, soos die verlore seun. Daarom is wedergeboorte nodig- dit is die nuwe lewe deur die Heilige Gees wat dit deur die Woord in my werk. Kan ek ook wedergebore word? - Dit is dan jufs wat die Heilige Gees aan my belowe het. Hy is altyd gereed om dit te doen. En Hy doen dit met die Evangelie. Hy doen dit met Bybellees en gebed en huisgodsdiens en christelike opvoeding. Kan 'n gedoopte verlore gaan? Ja, as hy sy erfenis verkwis, as hy die banktjek opskeur- as hy weder om te glo. Kan 'n ongedoopte gered word? Ja, as hy deur God se genade tot geloof kom. God betaal nie alleen tjeks van beloftes uit nie, maar ook kontant. Hy doen dit met vroeg-gestorwe kindertjies in Sy Testament en Hy kan dit ook doen met volwassenes. Maar as oor my- gedoopte- die donkerste neg oor my of oor my huisgesin of my volk toesak... dan kan ek met my doop op die knieë gaan en ek kan pleit en smeek:


O, God, U het my gedoop ... U het my kind gedoop! U het toe beloof wat U geen doen - dit was nie ek wat beloof het nie. Dit was U besluit- en nie my beslissing nie ... Dit was U daad - en nie my ervaring nie ... Dit was U genade - en nie my werke nie ... Dit was Jesus wat sy bloed gegee het- en nie my offers nie ...Dit was U Heilige Gees wat my wek tot die nuwe lewe- en nie my geesdrif nie...O, Vader, dit is ALLES U GENADE - en NIKS van my om U om te koop nie. Dit is my enigste VASTE SEKERHEID!

161 views0 comments

Comments


bottom of page